• kosie house of theatre productions
  • kosie house of theatre productions

Oskar En Die Pienk Tannie

Oskar En Die Pienk Tannie

“Elke nou en dan, min of meer een maal per jaar, gebeur 'n teaterstuk wat 'n mens nie durf misloop nie. Die soort teaterbelewenis wat by jou steelkant verbyglip en jou totaal ontredder. Wat nie talm of trane trek nie. Wat jou vinnig twee keer laat kyk, vinnig oor jou skouer laat kyk. Wat jou oorrompel met 'n verpletterende besef van die fragiliteit en vlugtigheid van die lewe, van die kosbaarheid van oomblikke. Wat sorg vir 'theatre magic', losweg vertaalbaar as hoendervleis. So 'n stuk is Oskar en die pienk tannie.

Die fenomenale Sandra Prinsloo het ophou draf. Sy is nou op 'n galop. Eers was daar Die Naaimasjien wat gehore landwyd (sowel as in Edinburgh) weerloos gelaat het, nou is Oskar op almal se lippe, die kaartjies oraloor uitverkoop.” - Deborah Steinmair.

Oskar en die pienk tannie is deur die KKNK vereer met drie Kannas:

-       Beste Teaterproduksie

-       Beste Regie (Lara Bye)

-       Beste Aktrise (Sandra Prinsloo)

Die stuk deur Eric-Emmanuel Schmitt is deur Naòmi Morgan in Afrikaans vertaal. Die teks is verruklik: dis terloops hartseer en terloops snaaks. Prinsloo speel teen die sentiment, trap liggies oor versengende hartseer, raak vlugtig aan paradigmaverskuiwende insigte, streel ingedagte oor absurditeite. Dis haar tydloosheid wat opval: die varsheid van haar kreatiewe genialiteit wat grense, geslagte en generasies oorbrug.

Sy vertolk die rol van 'n tienjarige seuntjie wat terminaal siek is. En dié van 'n ouma en 'n paar ander karaktertjies in die kindersaal. Sy vervel naatloos en gee lyf aan 'n reeks karakters wat bybly. Op die verhoog is 'n enkele tafel: die sterwende Oskar se hospitaalbed. Wees gewaarsku: dis sneesdoekie-gebied. 'n Mens se wange word vroeg al nat. Oskar gooi 'n houtoog oor grootmense, die liefde, hormone, God en die dood.

Oskar het kanker en sy operasie was onsuksesvol; iets waarvoor hy homself blameer, soos kinders doen. Sy reddingsboei is Ouma Rosa, 'n bejaarde vrou wat elke dag die kinderhospitaal besoek. Sy is wys, pittig en goddeloos. Om hom te vermaak versin sy staaltjies oor haar dae as rofstoeier, die wildewoeste Weskus-wonder. Sy beskik oor morele dapperheid en lieg nie vir die kind nie. Sy beveel hom om elke dag te leef asof dit tien jaar is. Op dié manier kan hy tot op die rype ouderdom van 120 jaar leef. Sy raai hom ook aan om elke dag vir God 'n brief te skryf en 'n wens te wens:

“Liewe God

My naam is Oskar, ek is 10 jaar oud, ek het die kat en die hond en die huis aan die brand gesteek, en dis die eerste brief wat ek aan jou stuur, want ek het nie voorheen tyd gehad nie. Ek moes leer.”

Deur Eric-Emmanuel Schmitt.

Afrikaanse vertaling: Naòmi Morgan

Met: Sandra Prinsloo

Regie: Lara Bye

Agtergrondmusiek: Braam du Toit

Tydsduur: 75 minute

“Sandra Prinsloo het weer gewys waarom sy as die doyenne van Suid-Afrikaanse toneelspel bestempel word. Wat ’n roerende, deernisvolle, komiese, oortuigende vertolking van drie, vier karakters met niks meer nie as net haar stem, houding en bewegings. Die oorskakeling tussen ouma Rosa en die 10-jarige Oskar, is fenomenaal.” -Elretha Britz, VOLKSBLAD.

7 September 2016 - 2 Oktober 2016

Pieter Toerien se Montecasino Studio teater

 

Sandra Oskar1 Pieter Lombaard

post this